Studielenings
Die Helpmekaar se rentekoerse vir studielenings is waarskynlik billiker as die meeste ander instansies in Suid-Afrika wat studiehulp verleen. Lenings word hoofsaaklik toegeken vir studie aan universiteite en universiteite van tegnologie, maar sowat 12,3% van die geld gaan ook vir studie aan kleiner geakkrediteerde instellings.
Die HSF beskou nie sy rol as afgehandel sodra die leningsooreenkoms onderteken is nie. Daar is deurlopende betrokkenheid by studente en hul ouers, wat lei tot ’n uitstekende akademiese sukseskoers.
Die Helpmekaar Studiefonds staan lenings vir die volle duur van ’n kursus toe. Rente is betaalbaar gedurende die studietermyn en die terugbetalingstermyn is dubbel dié van die studietydperk, met ’n maksimum van tien jaar. Rente word slegs op die uitstaande bedrag bereken m.a.w. net op die deel van die lening wat gebruik word.
Prestige Toekennings
Die HSF maak jaarliks toekennings aan ons beste akademiese presteerders wat hul kwalifikasie cum laude verwerf het. Tydens 2026 se Prestige funksie het 39 studente gekwalifiseer en op ‘n glansgeleentheid hulle pryse ontvang. Die 39 wenners het saam ‘n gemiddeld van 80% behaal. Die algehele wenner vir 2026 is Rocco Joubert van Velden en die naaswenners is Dr. Marco van Greunen, Louisa Helena Naudé en Christiaan van Niekerk.


Administrasie van ander fondse
Benewens die lenings wat aan Helpmekaar-studente toegestaan word, administreer die Helpmekaar ook verskeie ander fondse, waaronder die personeelstudiefondse van maatskappye soos British American Tobacco en Heineken. Die keuring van hierdie leningsaansoeke word egter deur die ondernemings self gedoen.