Aansoeke & Lening
Wanneer maak aansoeke oop?
- Die Helpmekaar Studiefonds (HSF) se aansoeke maak elke jaar op 1 Augustus oop en sluit weer 30 September van daardie jaar.
Hoe doen ek aansoek vir ’n studielening?
- Jy moet HSF webtuiste, www.helpmekaarfonds.org, besoek. Onder die afdeling “Doen Aansoek” sal jy ’n inligtingstuk kry wat jy moet aflaai en lees.
- Onderaan die bladsy sal daar ’n skakel wees waar jy gaan registreer. Nadat jy geregistreer het sal jy ’n e-pos met ’n gebruikersnaam en wagwoord ontvang. Gebruik die gebruikersnaam en wagwoord om in te teken op die aanlynportaal om sodoende die aansoek te voltooi.
- Moet asseblief nie weer op die registrasie-skakel kliek nadat jy geregistreer het nie, herhaaldelike registrasies gaan jou profiel blok.
Hoe weet ek of ek kwalifiseer vir ’n lening by HSF?
- Jou gesin se belasbare inkomste moet R350 000 of meer per jaar wees. Jy moet ook ’n geldige borg met ’n goeie kredietrekord hê. (Lees die inligtingstuk in verband met wat ’n borg is.)
- Huishoudings met ‘n gesamentlike inkomste van minder as R350 000 per jaar kan vir ‘n NSFAS-beurs aansoek doen en kwalifiseer nie vir ‘n lening by Helpmekaar nie.
- Jy moet seker maak dat die kursus en instansie waar jy wil gaan studeer by SAQA/DHOO geregistreer is. Jy sal die inligting by die instansie kry.
- HSF gee slegs lenings vir nagraadse studies aan studente wat reeds vir hul voorgraadse studies ‘n lening by ons het.
Watter dokument moet ek oplaai vir my aansoek?
- ID van die student en ouers / borg.
- Jou matrieksertifikaat of jou Junie-uitslae indien jy nog besig is met matriek.
- Die ouers/borg se ITA34 van die betrokke belasting jaar. Neem kennis dit nie die ITA34 van die vorige jaar kan wees nie en ook nie ’n IRP5 nie.
Moet ek wag totdat ek my finale matriekuitslae het voordat ek kan aansoek doen?
- Nee, gebruik jou Junie-uitslae. Doen aansoek tussen 1 Augustus en 30 September.
Ek is nie seker by watter instansie ek vir studies aanvaar gaan word nie. Mag ek nou al aansoek doen?
- Ja, jou aansoek word solank verwerk en die instansie (Universiteit) se naam kan later op die stelsel verander word.
- Jy kan solank jou eerste keuse Universiteit invul, indien dit verander moet jy vir ons in kennis stel.
Ek is reeds besig met my tersiêre studies, maar het nou besef dat ek ‘n lening nodig het. Mag ek vir ‘n lening aansoek doen?
- Jy mag aansoek doen vir ‘n lening vir die res van jou voorgraadse studies.
Moet ek die volle leningsbedrag gebruik?
- Nee, jy hoef net die geld te onttrek wat jy nodig het. Jy betaal net rente op die bedrag wat jy onttrek (as jy bv. ‘n lening vir R75 000 het en jy gebruik net R50 000, betaal jy net rente op die R50 000). Hoe minder jy van die lening gebruik, hoe minder is daar om terug te betaal.
Hoe werk die terugbetaling van die lening?
Renteberekening gedurende studie:
- Die rentekoers op lenings tydens studiejare, is gelykstaande aan die banke se prima-koers minus 1%. Die HSF pas die rentekoers op lenings aan wanneer die prima-koers verander.
- Terwyl die student studeer, moet die rente en assuransie op die uitstaande balans maandeliks per debietorder betaal word. Indien die betaling van die rente-paaiement op enige stadium agterstallig raak, sal geen uitbetalings gemaak word nie.
Renteberekening en terugbetaling ná studie:
- Die terugbetalingspaaiement word teen die prima rentekoers van die banke bereken. Die HSF pas die rentekoers op lenings aan wanneer die prima-koers verander.
- Die lening (kapitaal, rente en groepsversekering/assuransie) word soos volg terugbetaal met gelyke paaiemente, versprei oor die volgende terugbetalingstermyne:
- 1 – 5-jaarkursusse: 2 x die studietermyn.
- 6-jaarkursusse: ‘n maksimum terugbetalingstermyn van 10 jaar.
Wat kan ek doen om my leningskuld minder te maak?
- Jy of jou borg kan enige tyd ‘n ekstra betaling op jou lening maak en sodoende die uitstaande bedrag minder maak (selfs R100 per maand gaan oor die langtermyn ‘n verskil aan jou uiteindelike leningskuld maak, omdat rente daagliks op die uitstaande balans bereken word).
Hoe werk die aansoekproses vir ’n addisionele lenings?
- Dit is nie nodig vir ’n volledige aansoek nie.
- Ons stuur elke jaar in Oktober ’n kennisgewing uit na die student en die borg in verband met die aansoek vir ’n Addisionele lening. Die kennisgewing sal al die inligting bevat oor wat u vir ons moet stuur.
- Voorkeur word gegee aan aansoeke vir beroepsgerigte kursusse soos BRek., BPsig., LLB (nagraads) en NOS. Indien goedgekeur, sal lenings vir ekstra of herhaaljare van studie slegs toegestaan word vir vakke wat herhaal moet word as vereiste om die kwalifikasie te verwerf.
- Neem kennis dat dié aansoekproses eers begin na ons aansoeke vir nuwe studielenings afgehandel is. HSF gee slegs lenings vir nagraadse studies aan studente wat reeds vir hul voorgraadse studies ‘n lening by ons het.
Hoe werk dit as ek nie aan die einde van die jaar afstudeer nie?
- Indien daar ‘n rede is waarom jou studie nie voltooi is nie en jy steeds in die komende jaar ‘n voltydse student gaan wees, moet die HSF-kantoor vóór of op 31 Desember daarvan in kennis stel word.
- Ons stuur elke jaar in Oktober ’n kennisgewing uit in verband met studente wat nie afstudeer nie. Die kennisgewing sal al die inligting bevat oor wat u vir ons moet stuur.
Opvragings
Hoe werk die lening indien ek ’n beurs óf nog ’n ander lening kry vir my klasgelde?
- Jy moet vir ons ’n bewys of bevestiging oplaai van die beurs/lening wat jou klasgelde dek. Indien jy ’n beurs ontvang wat jou klasgelde vir die jaar dek, het jy slegs toegang tot 50% van die leningsbedrag wat aan jou toegestaan is vir lewenskostes.
Ek het ‘n lening by Helpmekaar en reeds my klasgelde uit die lening betaal. Nou het ek ‘n beurs gekry. Hoe maak ek om die krediet op my rekening terug te kry?
- Jy stuur ‘n e-pos aan die HSF-kantoor en ons vra die geld by die instansie terug en krediteer dit teen jou lening.
OPVRAGING, BETALING VAN FONDSE EN OPLAAI VAN DOKUMENTE OPVRAGING (vir betaling van studiekoste ens.) :
- Alle opvragings moet deur die aanlynportaal gedoen word.
- ‘n Maksimum van 4 opvragings per jaar word toegelaat.
- Daar kan dus geen maandelikse opvragings gedoen word nie.
- Studiekoste word direk aan die instansie betaal (‘n Opvraging moet steeds daarvoor gedoen word.)
- Slegs 3 opvragings vir studiekoste word per jaar toegelaat.
- Slegs 1 opvraging vir lewenskoste word per jaar word toegelaat.
- Lewenskoste word direk aan die student, ouer of borg betaal.
- Laat 5 werksdae toe vir betaling nadat die opvraging volledig ingedien is, in ag genome:
- Opvragings wat teen die 20ste van die maand ingedien word, sal nog die betrokke maand betaal word.
- Opvragings wat na die 20ste van die maand ingedien word, sal vroeg die volgende maand betaal word.
BETALING VAN FONDSE
- Geen betaling van klasgeld word aan die borg of student gemaak nie. (Indien die borg die rekening self betaal het, en bewys daarvan opgelaai is, sal dit direk aan hom/haar betaal word.
- Betaling van klasgeld is altyd die eerste prioriteit. Dit moet vereffen word alvorens die restant van die fondse beskikbaar sal wees vir lewenskoste (bv. losies, boeke, ens.).
- Indien fondse vir lewenskoste aan die begin van die jaar benodig word, mag dit onttrek word op voorwaarde dat:
- Registrasiekoste aan die instansie betaal is, en
- Verseker is dat daar genoeg fondse oorbly om die volle jaar se studiekoste te dek.
- Studente wat vanuit hul ouerhuis studeer, mag ‘n maksimum bedrag van R35 000 vir lewenskoste onttrek.
- Bewys van elke betaling word direk na die betaling slegs aan die student gestuur.
- Studente wat NSFAS-beurse ontvang, mag ‘n maksimum van 50% van die beskikbare leningsbedrag per jaar onttrek vir lewenskoste.
VEREISTE DOKUMENTASIE
Die volgende dokumente moet deur die aanlynportaal opgelaai word (selfs indien fondse in die betrokke jaar nie onttrek word nie.):
Graad 12-Sertifikaat | Slegs vir eerstejaar student |
Die nuutste instansie/universiteit rekening | Moet met elke opvraging gelaai word |
Bewys van registrasie | Elke jaar vir alle studente |
Amptelike Junie akademiese uitslae | Elke jaar vir alle studente |
Amptelike Desember akademiese uitslae | Elke jaar vir alle studente |
- Elke dokument moet slegs een keer opgelaai word.
- Elke dokument moet apart opgelaai word.
HOE OM ‘N OPVRAGING TE DOEN
Webwerf: www.helpmekaarfonds.org – Dubbelkliek op Aanlynportaal (bo regs) TEKEN AAN met die gebruikersnaam en wagwoord
- Kliek op ‘Opvragings’
- Kies ‘Nuwe Opvraging’ en voltooi die vorm
- Alle velde gemerk met (*) is verpligte velde
- By ‘Addisionele Inligting oor Uitbetaling’ moet die tipe uitgawe gemeld word (bv. Studiegelde of verblyf).
- By ‘Aan wie moet die betaling gemaak word?’ moet die naam van die rekeninghouer ingevul word, bv. Universiteit Stellenbosch of DJ Swart. (Nie bv. ‘my ma’ of ‘myself’ nie.)
- By ‘Bedrag’ word slegs die syfers ingevul (bv. 1234.56). Geen spasie of R-teken nie. Gebruik ‘n punt tussen rande en sente en nie ‘n komma nie. Stoor
Nadat die Opvraging gestoor is, versoek die stelsel dat ‘n dokument gelaai word. Laai nou jou nuutste universiteitsrekening.
Indien die dokumente soos versoek by Punt 3 nog nie gelaai is nie, laai dit nou onder ‘Dokumente’ – ‘Laai addisionele dokumente’.
Om seker te maak dat die opvragings suksesvol gestoor is, teken weer aan en gaan na ‘Opvragings’, dan ‘Opvraging Opsomming’. Dit wys hier in watter fase die opvraging is, byvoorbeeld:
- Nuwe Opvragings – Opvraging is voltooi en gestoor
- Geëvalueerd – Die opvragings is geëvalueer en betaling sal binnekort geskied
- Uitstaande inligting – Daar is uitstaande dokumentasie of inligting
WAT KAN NOG OP DIE PORTAAL GESIEN WORD
Lening: | Dokumente: |
Leningsbesonderhede | Lys van opgelaaide dokumente |
Transaksie Opsomming | Laai addisionele Dokumente |