ALGEMENE INLIGTING AANGAANDE HSF STUDIELENINGS
LET WEL: Hierdie dokument vorm deel van die amptelike dokumentasie t.o.v. die aansoek om en toekenning van
die Helpmekaar Studiefonds (HSF) lenings en moet as sodanig beskou en gelees word.
1. Lenings is slegs beskikbaar aan studente wat:
- voltyds by ‘n instansie studeer wat by die Suid Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO/SAQA) of die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO/DHET) geakkrediteer is;
- deur afstandsonderrig studeer, op voorwaarde dat die kursus in dieselfde tydperk voltooi moet word as die betrokke voltydse kursus; en
- aan die keuringsvereistes van die direksie voldoen, o.a. akademiese prestasie.
Die toekenning van lenings is onderhewig aan die beskikbaarheid van fondse binne die Studiefonds en daarom word aansoekers aangemoedig om so spoedig moontlik hul aansoek te voltooi ná die aansoeke elke jaar open.
Let wel: Studente uit gesinne met ‘n bruto jaarlikse inkomste van minder as R350 000, word normaalweg nie vir ‘n studielening
by die HSF oorweeg nie. Hierdie studente kwalifiseer vir ‘n NSFAS-beurs, indien hulle by een van die publieke universiteite
of TVET-kolleges gaan studeer (besoek www.nsfas.org.za).
2. Lenings kan aangewend word vir klasgeld en enige restant mag gebruik word vir studiemateriaal en verblyf. Aansoekers moet dus deeglik uit eie bronne begroot vir ekstra uitgawes.
3. Die meeste finansiële instansies ken studielenings jaarliks toe. By die HSF word lenings egter toegeken vir die volle studietermyn (die normale duur van die kursus). Elke student en ouer het dus die gemoedsrus dat befondsing in plek is vir die volle studietermyn, mits die student suksesvol studeer.
3.1 In 2023 is die maksimum leningsbedrae per jaar:
- Graadkursusse R95 000
- Diploma-/Sertifikaatkursusse R75 000
- Afstandsonderrig (bv. UNISA) R60 000
3.2 Aansoeke om lenings vir ‘n eerste kwalifikasie geniet voorkeur.
3.3 Nagraadse studie in spesifieke beroepsgerigte kursusse, bv. HonsBRek, LLB, HonsBPsig, ens. vorm deel van die kursus en lenings word vir die volle studietydperk (vier jaar) voorsien. Vir nagraadse studie in ander kursusse, kan studente vir ‘n addisionele lening aansoek doen.
Die sluitingsdatum vir addisionele lenings is 30 November.
- Uitbetaling van fondse
- Klasgeld word direk aan die instansie waar die student studeer, betaal.
- Verblyf word direk aan die verskaffer of verhuurder betaal.
- Geen fondse ten opsigte van verblyf of klasgeld word aan die borg of student betaal nie, tensy die borg die fondse self betaal en die bewys van betaling aanlyn opgelaai het.
- Studente wat uit hul ouerhuis studeer kan ‘n maksimum bedrag van R35 000 vir lewenskoste eis. Hierdie bedrag word in twee paaiemente betaal.
- Slegs indien die klasgeld ten volle betaal en daar nog fondse beskikbaar is, sal die balans aan die student beskikbaar gestel word vir privaat losies, boeke of lewenskoste in die geval waar studente by hul ouers inwoon.
- Alle opvragings moet deur die aanlynportaal gedoen word.
5. Verantwoordelikhede van die student (lener)
Daar word van elke student vereis:
- om ‘n bewys van registrasie op hul aanlynprofiel te laai sodra dit beskikbaar is;
- om tydens studiejare aan die einde van elke semester sy/haar amptelike uitslae/studieverslag op die aanlynportaal te laai sodra dit beskikbaar is, ongeag of verdere fondse onttrek (gaan) word;
- om ‘n huurkontrak en faktuur vir die verskaffer van privaatverblyf saam met ‘n opvraging op die aanlynportaal te laai; en
- om die instansie waar hy/sy studeer se nuutste rekeningstaat (klasgeld) saam met ‘n opvraging op die aanlynportaal te laai.
Indien ‘n student, sonder ‘n aanneemlike rede, nie sy/haar eksamen slaag nie, of nie die voorwaardes van die lening nakom nie, kan sy/haar lening opgeroep word en moet die skuld terugbetaal word op ’n wyse soos deur die HSF bepaal.
6. Renteberekening tydens studie
6.1 Die rentekoers op lenings tydens studiejare, is gelykstaande aan die banke se prima-koers minus 1% wat op daardie stadium van toepassing is. Die HSF behou die reg voor om dié rentekoers in die loop van die jaar aan te pas, indien die prima-koers verander.
6.2. Terwyl die student studeer, moet die rente gehef op die leningsbedrag maandeliks per debietorder betaal word, soos deur die HSF bepaal. Indien die betaling van die rente-paaiement in enige stadium agterstallig is, sal geen fondse uitbetaal word nie.
7. Renteberekening en terugbetaling ná studie
7.1 Ná studie sal die terugbetalingspaaiement bereken word teen die prima rentekoers van die banke wat op daardie stadium van toepassing is. Die HSF behou egter die reg voor om dié rentekoers in die loop van die jaar aan te pas indien die prima-koers verander.
7.2 Ná studie word die lening (kapitaal en rente) soos volg terugbetaal met gelyke paaiemente, versprei oor die volgende terugbetalingstermyne:
1 – 5-jaarkursusse: 2 x die studietermyn.
6-jaarkursusse: ‘n maksimum terugbetalingstermyn van 10 jaar.
8 . Sekuriteit
In terme van nasionale regulasies met betrekking tot kredietverlening, moet all lenings deur geskikte sekuriteit ondersteun word.
8.1 Kredietwaardige borg (verpligtend)
‘n Borg is iemand (normaalweg ‘n ouer of familielid) wat onderneem om verantwoordelikheid vir die voornemende student se skuld (lening) te aanvaar. Die HSF doen ‘n kredietnavraag op elke borg ten einde hulle kredietwaardigheid te bevestig. Beide die student en die borg teken die leningskontrak. Die borg aanvaar dus ook volle verantwoordelikheid vir die uitstaande skuld in gevalle waar die student nie die studielening kan terugbetaal nie.
8.2 Bykomende sekuriteit
Met sekuriteit word bedoel iets van waarde wat die HSF in kontant kan omskep indien die student sy onderneming om die lening terug te betaal, nie nakom nie. Bykomende sekuriteit sal in die aansoekers se guns tel by die toekenning van ‘n lening.
8.2.1 Die sessie van polisse / beleggings / aandele / effekte trusts
Hierdie opsie het geen koste-implikasies nie. Bewyse van die afkoop- of kontantwaarde van polisse (nie die fondswaarde nie) en/of die waardes van die beleggings, aandele of effekte trusts moet tydens die aansoek op die aanlynportaal opgelaai word.
let wel: die volgende word nie as sekuriteit aanvaar nie:
- Uittree-annuïteite;
- Beleggings in Pensioenfondse; en
- Lewenspolisse sonder kontantwaarde.
8.2.2 Die registrasie van ’n borgverband op eiendom
Indien bostaande opsies nie beskikbaar is nie en die borg wel oor eiendom beskik, is dit ’n moontlikheid, maar een waaraan koste verbonde is. Vir die registrasie van die borgverband kan u van die HSF se voorgestelde of u eie prokureur gebruik maak. Die koste van die registrasie sowel as die uiteindelike kansellasie van die borgverband is vir die rekening van die borg. Die HSF verwag nie dat die volle lenignsbedrag as borgverband aangebied word nie. Normaalweg word ‘n bedrag van tussen R50 000 en R100 000 op ‘n eiendom geregistreer as addisionele sekuriteit.
‘n Borgverband is nie die registrasie van ‘n tweede verband nie. Dit is ‘n dokument wat in die Aktekantoor geregistreer word,
waarin aangeteken word dat die eiendom nie verkoop kan word sonder die toestemming van die HSF nie.
Dit is dus ‘n amptelike kontrak waar ‘n bedrag as waarborg geregistreer word.
8.2.3 ’n Tweede borg
Indien die eerste borg (gewoonlik ‘n ouer) nie voldoende sekuriteit kan verskaf nie, kan van ’n tweede borg (bv. ‘n oupa) gebruik gemaak word. Die tweede borg kan nie die gade van die Hoofborg wees nie. Die eerste sowel as die tweede borg, sal versoek word om inligting te verskaf op die aanlynportaal. Dieselfde reëlings ten opsigte van sekuriteit soos hierbo gestel, kan ook op ’n tweede borg van toepassing gemaak word.
8.2.4 Trust
‘n Trust (bv. ‘n familie-trust) kan as sekuriteit aangebied word. Alle relevante inligting moet verskaf word.
9. Lewensversekering
Alle lenings word outomaties deur ’n groeplewensversekeringskema wat deur Sanlam onderskryf word, gedek, tensy die student verkies om ’n alternatiewe reëling met die HSF te tref. Tydens studie beloop die premie van die dekking tans 17 sent per R1 000 en styg na afloop van die studies, na 55 sent per R1 000 van die uitstaande balans van die leningsbedrag. Die student se rekening word maandeliks met die bedrag van die premie gedebiteer.
Die uitstaande balans van die lening en gevolglik ook die borgverpligting word gedek in geval van dood / tydelike arbeidsongeskiktheid / permanente arbeidsongeskiktheid van die student. Wanneer die leningskuld afgelos is, verval die versekering outomaties.
10. Vir meer inligting, kontak asseblief die kantoor:
Telefoon: 021 930 8155 / 930 3195
E-pos: info@helpmekaarfonds.org
Die Helpmekaar Studiefonds se fondse is oor die jare met groot toewyding opgebou. Daar is geen aandeelhouers of persone met private belange nie. Die enigste mense wat voordeel trek uit die Fonds, is studente en van hulle word verwag om hulle verpligtinge getrou na te kom
sodat diegene wat ná hulle kom, ook uit hierdie bron gehelp kan word.