’n Reddingsdaad

Die Helpmekaarbeweging is gebore uit die nood van Afrikaners wat na die Rebellie van 1914-15 in groot skuld gedompel was. In ’n fondsinsameling wat in die uiters moeilike ekonomiese omstandighede van destyds aan ’n wonderwerk gegrens het, is in die vier provinsies £100000 méér ingesamel as wat nodig was om al die boetes en skadevergoedingseise van die rebelle te delg. Daar is toe besluit om hierdie bedrag vir opvoedkundige doeleindes aan te wend, en £39 432 12s en 8d is aan Kaapland toegeken.

 

Die Kaapprovinsie, veral, het met groot ywer Helpmekaar-takke gestig, gemeenskappe betrek en hulp aan studente begin verleen. Teen 1970 het sy fonds reeds op R860 000 gestaan, sowat 20 jaar later op R10 miljoen en aan die einde van 2014 het die bates van die fonds nagenoeg R183miljoen bedra.

 

In 1965 is die Helpmekaar se naam na die Helpmekaar Studiefonds verander.

 

Die lank gekoesterde ideaal om 100 nuwe lenings per jaar toe te staan, is in 2001 verwesenlik. Daarna is die proses versnel en sedert 2011 kon gemiddeld 250 nuwe lenings per jaar toegestaan word.

 

Vir bykans honderd jaar lê die Helpmekaar se ontwikkeling- en bemagtigingspoor duidelik sigbaar oor die Suid-Afrikaanse landskap, deurdat ons samelewing op talle terreine deur die bydraes van Helpmekaar-studente verryk is. Danksy die saaikapitaal van destyds wat uitstekend bestuur is en oor die jare deur mense met visie en ’n hart vir hul medemens aangevul is, kom die Helpmekaar vandag nog tot die redding van duisende studente om sy historiese roeping te vervul.

 

Japie Helpmekaar

Jacob Eliza (Japie) de Villiers is op 31 Desember 1835 op die plaas Bellingham in die Groot Drakensteindistrik gebore. Sy pa was Abraham Coenraad en sy ma Johanna Cornelia Haupt. Japie is in 1857 met Magdalena Elizabeth (Lenie) Scholtz getroud. Uit Japie en Lenie se huwelik is daar twaalf kinders gebore waarvan sewe volwassenheid bereik het.

Die Viljees het later op Waterval gaan boer en Japie het lank in die kerkraad van die Strooidakkerk in die Paarl gedien. Hy het ook ’n studie van homeopatie gemaak, en vir baie jare sy eie gesin medies versorg en ook baie ander inwoners van Groot-Drakenstein kosteloos behandel. Die Helpmekaarbeweging het stukrag verkry toe J.E. de Villiers £500 beloof het indien nog 500 mense elk £100 sou bydra – vandaar die erenaam Japie Helpmekaar.

 

Gedenkboek

Tydens die Eeufeesviering in Julie 2016, het die Helpmekaar Studiefonds ’n gedenkboek getiteld ’n Lewende Monument bekendgestel. Ons hoop is dat as basis en inspirasie sal dien vir die opvoeding van vele meer.

Indien u graag ’n kopie van die publikasie wil bekom, kontak gerus die kantoor.

’n Lewende Monument

ISBN 978-0-620-71164-3

Prys: R200 (posgeld binne RSA ingesluit)