Die Helpmekaar Studiefonds is ’n maatskappy sonder winsmotief wat bekostigbare studiehulp aan voornemende studente bied. Die instelling voorsien in die grootste gedeelte van die finansiële behoeftes vir naskoolse onderrig en verskaf sodoende gemoedsrus aan ouer en student vir die duur van die kursus.

In 2016 het die Helpmekaar Studiefonds ’n groot mylpaal bereik met die viering van sy 100ste bestaansjaar!

In 2016 het die Helpmekaar Studiefonds ’n groot mylpaal bereik met die viering van sy 100ste bestaansjaar!

In die loop van die afgelope eeu is lenings en beurse aan duisende studente toegeken. Onder hulle is bekendes soos die hartchirurg-broers drs. Chris en Marius Barnard, dr. M.H. de Kock, derde president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, die bekroonde digter Breyten Breytenbach, die politieke leier dr. Frederik van Zyl Slabbert, die satirikus Pieter-Dirk Uys en prof. C.G.W. Schumann, stigter en dekaan van die fakulteit handelswetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch.

Ons visie is steeds om met die beskikbare fondse studente sodanig te bemagtig dat hulle ’n beduidende rol kan speel in die ontwikkeling en bestuur van Suid-Afrika. Die Helpmekaar Studiefonds speel ’n enorme rol as een van die weinig instellings wat grootliks in die finansiële behoeftes van studente voorsien, ongeag ras, geloof of geslag.